![]() |
Heilige Ledigheid Meditasie is heilige ledigheid. Dis niksdoen… niks, behalwe om jou verstand te gebruik om jou verstand af te skakel. Hoekom sal enige iemand dit wil doen? Ons gedagtes is verstommend kragtig: watookal ons voel, doen of sê word voorafgegaan deur wat ons dink en nie dink nie. Uiteindelik bepaal die inhoud van jou gedagtes die verloop van jou lewe. Deurmekaar denke gaan gewoonlik gepaard met ‘n gevoel van fragmentasie en verwarring. Helder, gefokusde denke lei gewoonlik tot duidelike intensies en ‘n gevoel van doelgerigtheid en betekenis. Hoe kan ‘n mens deurmekaar denke omskep in helder denke? As ons verstand soos ‘n televisie gewerk het, sou mens die afstandbeheer kon gebruik om oor te skakel van die Deurmekaar Kanaal na die Helder Kanaal. Meditasie is ‘n manier om van kanaal te verander, maar dit werk deurdat jy die Deurmekaar Kanaal se volume afdraai en die beelde wasig maak sodat die Helder Kanaal uit die stilte te voorskyn kan kom. Meditasie werk met die beginsel dat jy alreeds beskik oor al die helderheid en insig wat jy nodig het. Jou enigste taak is om by die konstante geklets van die Deurmekaar Kanaal verby te kom om toegang te verkry tot die Helder Kanaal. Die ding wat dosyne verskillende meditasie-metodes met mekaar in gemeen het, is ‘n fokuspunt. Deur jou gedagtes op ‘n enkele fokuspunt te rig en te hou, kom die geklets op die Deurmekaar Kanaal tot bedaring. Die gevolge is onvoorspelbaar: as jy die Deurmekaar Kanaal stil gekry het, weet jy nooit wat jy op die Helder Kanaal gaan teëkom nie… daar is nie ‘n maandelikse programgids nie. Die Helder Kanaal se programme is egter die beste in die ganse heelal: inspirerend, verrassend en by tye selfs lewensveranderend. Wees gewaarsku dat daar geen waarborg is dat jy noodwendig ‘n program op die Helder Kanaal te kyk gaan kry as jy by die Deurmekaar Kanaal verby gekom het nie. Partykeer saai hulle net Suiwer Stilte uit – so moenie in die strik van verwagtings trap nie! ‘n Gereelde kans om ‘n rukkie lank van jou gedagtes weg te kom, is in elk geval ‘n wonderlike gewoonte. Om jou kwetterende gedagtes te probeer stilkry is dikwels ‘n frustrerende ervaring. Die oomblik as jou aandag dwaal en jy jou fokuspunt verloor, begin die onstuitbare gekwetter weer in ‘n oogwink. Meditasie-oefening behels ‘n baie eenvoudige siklus:
Begeleide meditasie is ‘n goeie manier om te begin om jou verstand op te lei om dit reg te kry om fokus te behou: dit voorsien ‘n fokuspunt en skep kort periodes waarin jy kan oefen om te fokus. En as jou aandag dwaal, is dit nooit lank voordat ‘n stem jou herinner om terug te keer na die fokuspunt toe nie. As ‘n mens leer fietsry met sywiele, het jy die geleentheid om “die gevoel te kry”. Wanneer jy reg is om te begin ry sonder die sywiele, gaan jy beslis ‘n keer of wat afval… totdat jy die vaardigheid uiteindelik lewenslank bemeester het. Ongelukkig werk meditasie glad nie so nie. Selfs die mees ervare solo-mediteerder is nog steeds vatbaar vir die geraas van ‘n kwetterende, deurmekaar verstand. Hy of sy kan enige oomblik van die fiets afval. Dis waarom meditasie-oefening ‘n lewenslange praktyk is, en dis ook waarom sukses nie afhanklik is daarvan dat jy nie fokus verloor nie, maar eerder dat jy die fokus weer terugkry elke keer wanneer jy besef dat jy dit verloor het. "Meditasie vir Besige Mense" is meditasie-met-sywiele. Dis nuttig vir nuweling mediteerders sowel as vir ervare mediteerders wat van die fiets af geval het en weer in ‘n meditasie-roetine gevestig wil raak. Elke oefening bied ‘n eenvoudige struktuur wat ‘n mens help om jou gedagtes te fokus. Jy het net 15 of 20 minute nodig om ‘n sinvolle oefening in te kry. Dis glad nie nodig om al die oefeninge in een sitting te doen nie – sodra jy weet waaroor elke oefening gaan, sal jy die oefening wat jou behoeftes die beste pas, kan kies wanneer dit tyd is vir jou om te gaan stilsit. Wanneer jy die instruksies en musiek begin steurend vind, is dit waarskynlik ‘n goeie tyd oor te gaan tot solo-meditasie deur self ‘n fokuspunt te kies, en die meditasie-siklus in stilte te volg vir 10 – 20 minute.
|
©Copyright|Silence Incorporated| All Rights Reserved | Website created by Sizmz Web & Graphic Design |
|||