|
Veronica het haar praktyk in 1973 in haar agtertuin begin, en oor die jare uitgebrei totdat sy op ‘n stadium ‘n netwerk van 7 praktyke besit en bestuur het. So tussendeur het sy twee kinders grootgemaak: Janet en Victor. Sy bedryf steeds ‘n suksesvolle praktyk op 63, ten spyte van twee groot terugslae wat sy moes verwerk: Victor se dood in ‘n motorongeluk toe hy net 23 jaar oud was, en die borskanker waarmee sy 2 jaar gelede gediagnoseer is.
Wat het jou geïnspireer om jou eie praktyk te begin?
Nadat ek as fisioterapeut gekwalifiseer het, het ek vir omtrent 4 jaar by 1 Militêre Hospitaal en die destydse HF Verwoerd Hospitaal gewerk.
Toe Janet gebore is, het ek bedank. Maar toe sy omtrent 6 maande oud was, het ek dit begin mis om te werk. Ek het by HF se fisio-departement ‘n paar masjiene gaan leen en ouetehuis toe gegaan. Ek het die oumense gratis behandel, met die baba op die heup. ‘n Paar maande later het ‘n fisio-vriendin het my saamgevat na Agnes Wenham se praktyk in Johannesburg toe. Dié vrou het my vreeslik geinspireer met haar benadering tot kinders met lae spiertonus, postuurprobleme en ligte fisiese afwykings. Ek het met my kinder-praktyk in 1973 begin toe Janet so 2 of 3 was, en Victor was pas gebore.
Hoe het jou praktyk deur die jare ontwikkel?
My kinder-praktyk was hoofsaaklik in my agtertuin gesetel – die toerusting het daar buite gestaan. Ek het alleen gewerk, en my kinders het, vandat hulle kon, vir die “maatjies” met hulle oefeninge gehelp. Ek het meesal te sleg gevoel om die mense geld te vra. My tarief was laer as
die destydse mediese fonds tarief: my behandelingsessies het R3.35 gekos! Ek het altyd geglo goeie diens is die beste advertensie, en ek het goeie diens gelewer. My praktyk het heeltyd aanhou groei. Toe die kinders skool toe is, het ek my praktyk weg van die huis af geskuif.
Maar dit het nie vir my lekker gewerk nie, want my ure was lank en ek het nie daarvan gehou om so lank weg te wees van my kinders nie.
Ek het toe by my huis aangebou en die praktyk soontoe geskuif. Op die kruin van my praktyk se lewe het ek 10 fisios, 3 admin mense en die skoonmakers in diens gehad by my hoofpraktyk in Menlopark. En 7 ander praktyke opgerig, in ander voorstede en ander dorpe.
Noudat ek ouer is, het ek weer afgeskaal - ek bedryf nog net die praktyk by die huis. Ons is 4 fisios en 3 ontvangspersoneel.
Watter waardes en prioriteite het deur die jare vir jou rigting gegee?
Ek is passievol oor fisioterapie, ek het ‘n geweldige sterk dienslewerering-behoefte, en ek glo dis ontsettend belangrik vir kinders om te sien Ma werk hard, sy is gelukkig en sy maak goeie geld. Ek en my man is geskei toe die kinders 6 en 4 jaar oud was. Dit was ‘n baie moeilike ding om
te verwerk. Maar ek het net altyd vir myself gesê: die voorreg is myne, om my kinders by my te hê. Geld was aanvanklik vir my “nie belangrik” was nie, maar ek moes later leer om my praktyk winsgewend te bedryf sodat ek aan die kinders se behoeftes kon voldoen en vir hulle geleenthede kon skep.
Dit was vir my baie belangrik om deel te wees van my kinders se lewe, én dit was vir my belangrik om goeie diens te lewer aan my pasiënte.
Dis hoekom ek my praktyk by die huis af bedryf het: my ure was baie lank, maar ek kon dáár wees vir my kinders – ek was nie “weg” nie.
Ek het my dagboek so ingerig dat ek elke middag tyd gehad het om vir my kinders middagete te maak, en ek het moeite gedoen om vir hulle “mooi” kos te maak. En dan het ek saam met hulle geëet en uitgevra oor hulle dag. Ek was bevoorreg om gewoonlik almal te ken van wie hulle gepraat het, omdat die hele gemeenskap aanmekaar by my praktyk in en uit was. Ek het nooit een van die kinders se sportkompetisies gemis nie. Om die waarheid te sê, ek het my praktyk saamgeskuif sodat ek maklik kon gaan kyk as hulle deelneem! Toe hulle Hoërskool toe is het ek my dienste gaan aanbied in die Noodhulpkamer tydens groot sportbyeenkomste. My praktyk was die eerste een om so ‘n diens by ‘n skool aan te bied. Ek het dit gratis gedoen – maar die gevolg was dat ek geweldig baie goodwill opgebou het. Hierdie goodwill het my gehelp om kop bo water te hou, later, toe Victor dood is. En weer twee jaar terug, toe ek myself nie in die spieël kon kyk toe al my hare uitgeval het as gevolg van die chemoterapie nie. Die mense het vir my so baie blomme gegee dat ek daarmee ‘n skans kon bou op die spieëlkas in my kamer.
Watter faktore het bygedra tot jou sukses?
Daar’s ‘n klomp faktore wat bygedra het. Reg aan die begin het ‘n goeie vriend sy muntversameling vir my geleen, sodat ek daarmee kon bank toe gaan en daarteen ‘n lening kon kry om te kon apparaat aankoop, en dit het my gehelp om aan die gang te kom.
Dan is daar praktiese logistiek wat gehelp het: die kinders se laerskool en hoërskool was ‘n blok uitmekaar, en my huis en praktyk sit in daardie blok. So die kinders kon self tussen die skool en huis kom; ek hoef hulle nooit iewers heen te gevat het nie. Dit het dit moontlik gemaak dat my praktyk kon “oop” wees: ons was van soggens 6 uur tot saans 8 uur oop, sodat ons pasiënte voor en ná werk kon behandel. En dít het my praktyk laat werk: ons positiewe gees, buigsaamheid en toeganklikheid.
Ek het ook altyd ‘n goeie bediende gehad. Sy was van onskatbare waarde.
Toe ek geskei is, het ek ‘n bewustelike besluit geneem om nie in ‘n romantiese verhouding betrokke te raak nie, sodat ek my tyd en aandag 100% aan my praktyk en my kinders kon wy. Ek het geweet ek sou nie kon werk en lewe soos ek het as daar ‘n man in my lewe was nie.
Ek en my eks-man het ook ‘n sukses gemaak van ons egskeiding. Hy was toeganklik vir die kinders; ons het die kinders se byeenkomste saam bygewoon, en saam oueraande toe gegaan. Ek glo ons het altwee wilsbesluite geneem, al was dit aanvanklik ontsettend moeilik. Ek het besluit om die kinders te laat sien dat ons goed met mekaar oor die weg kom. My eks-man was nie ‘n dreinerende invloed op my nie.
Ek dink dis ook belangrik dat my betrokkenheid in my kinders se lewe sy oorsprong gehad in my behoefte om deel te wees, om te weet, te sien,
te hoor. Ek het nie gaan sport kyk of elke dag saam met hulle middagete geëet en baie met hulle gesels omdat ek gedink het “dis goed vir die kinders” nie. Ek het dit gedoen omdat ék regtig wou.
As jy nou terugkyk op jou lewe, wat staan vir jou uit in terme van hoe jy jou kinders, jou praktyk en jou persoonlike belange met mekaar gebalanseer het?
Ek skat daar was “gemengde gevolge”: ek het byvoorbeeld lank skuldig gevoel omdat ek dikwels my besigheid voor my kinders gestel het. Maar dit was goed ook: ek het nie gevoel die mense “demand” van my nie – ek het gegéé. Ek het later besef dis nie sinvol om skuldig te voel
dat ek nie voltyds beskikbaar was vir my kinders nie. Wanneer ek wel saam met hulle was, was ek regtig teenwoordig: toe ek elke dag saam met hulle middagete geëet het, was ons nie onderbreek nie… en ek het nooit ‘n sportwedstryd gemis nie. Ek en my kinders het ook die wonderlikste vakansies saam gehad – en hulle het alles in detail help beplan. Ek kon my ook ten volle uitleef in my werk, sonder om terug te hou. Dit was ‘n goeie ding, nie iets om oor skuldig te voel nie. Ek vermoed dat as ek myself sou teruggehou het in my besigheid, ek waarskynlik resentful sou geraak het teenoor my kinders. Dit het nie gebeur nie. Op die ou end , Werk vs. Kinders… die een het nie van die ander weggevat nie.
Wat ek reggekry het was volle oorgawe in my werk, en volle oorgawe met my kinders.
Ek was bevoorreg om kinders te hê wat maklik en ordentlik was. Ek het nie tienerprobleme met hulle gehad nie. My en Janet se verhouding was altyd baie heg...behalwe toe sy universiteit toe is en ook fisioterapie gaan studeer het: sy het heeltemal afstand geskep het vir 3 – 4 jaar! Maar ons is nou weer baie na aan mekaar, en ek is baie betrokke by my twee kleinkinders, al bly hulle 4 ure se ry van my af. Ek skat daar kom ‘n dag wanneer daar ‘n breuk moet wees tussen ‘n ouer en ‘n kind. Die kind moet sy of haar eie identiteit vestig… en daarna kan mens weer “close” raak.
Ek en Victor was ontsettend naby aan mekaar. Hy het by my gebly tot net voor hy getroud is. En toe is hy ‘n maand later dood in ‘n motorongeluk. Hy was 23, en ek was 50. Dit was ‘n baie moeilike tyd, maar die onderskraging uit die gemeenskap was ongelooflik.
Die ondervinding het my gelei tot groot persoonlike spirituele groei.
Wat ek wel deur die jare afgeskeep het, was dat ek nie ‘n groot vriendekring of ‘n sosiale lewe gehad het nie. Toe die kinders uit die huis uit is, het ek wel weer ‘n vriendekring opgebou. Ek het vroeër ook nie ook nie tyd gehad vir lees of ander stokperdjies nie, maar ek het dit nie gemis nie, want die ander goed het my so tevrede gehad. Daar is FASES, en mens pas aan daarby.
Ek moet toegee: daar was tye wat ek gewens het dat iemand my lewe net vir TWEE DAE oorneem, wanneer alles net te veel geraak het…
Maar, omdat daar soveel bevrediging was, het ek nooit emosioneel moeg geword nie. En die fisiese moegheid van lang ure werk het beter geword as ek net ‘n nag geslaap het.
My fisiese gesondheid was altyd baie goed – tot ek op 62 met borskanker gediagnoseer is. Ek het die volledige roete gestap: mastektomie, bestraling, chemoterapie… Ek is nog steeds aan’t herstel.
My “mental-emotional” gesondheid was altyd goed –ek skryf dit toe aan al die stimulasie en bevrediging wat ek uit my werk en my kinders geput het. Ek is ongelukkig ‘n emosionele eter: na my egskeiding en my kind se dood het ek gewig opgetel. En ek kan onomwonde stel dat om hard te werk my beslis nie laat gewig verloor nie!
Waarin glo jy, wat gemaak het dat jy deur die moeilike tye kon kom en weer kon terugbons?
- “Ek kan enige iets doen!” Ek kan nou nog hoor hoe Juffrou Steyn van Meisieshoër dit oor en oor vir ons gesê het…
- Elke mens is deel van die godheid. Ons kry en gee van en vir mekaar. Ek is deel van daardie groot krag rondom my; ek kan net vat daarvan. Ek is heeltyd daarop ingeskakel… dis nie vir “aan” en “af”skakel nie. Dis net hoe dit is.
- NOU is belangrik – dit maak die verlede minder pynlik en die toekoms minder vreesaanjaend. Hier en Nou. Elke oomblik, elke insident… ek wil niks verander nie. Ek weet uit elke slegte ding groei daar honderd goeie goed – die verdieping van jou WEET…
- My troeteldiere: hulle maak my rustig en kalm. Ek het nodig om iets te versorg.
Watter raad het jy vir die huidige geslag Mapreneurs?
- Die lewe bestaan uit fases. Aanvaar elke fase, en geniet elkeen met ‘n positiewe gemoed – moenie wens vir die volgende fase nie!
- Kies ‘n manier van lewe waarin jy jouself ten volle kan oorgee aan alles wat vir jou belangrik is – dan is skuldgevoelens onnodig en resentment nie ‘n faktor nie.
- Wees 100% teenwoordig waar jy is.
|